VERKOPER

VEILINGS VERKOOPSVOORWAARDES: VERKOPER

1. Die Verkoper is vertroud met en aanvaar die voorwaardes waaronder die Afslaersmaatskappy (hierna “die Afslaer” genoem) goedere (insluitende lewendehawe) namens die eienaars daarvan verkoop, erken dat enige van daardie voorwaardes wat nie in hierdie dokument herhaal word nie nogtans van toepassing is asof dit in hierdie dokument herhaal is en aanvaar ook die aanvullende bepalings hierin uiteengesit.
2. Alle goedere en/of lewendehawe word deur die Afslaers namens die Verkoper verkoop. Die Verkoper verklaar dat daar geen beswarings op daardie bates is nie en dat dit sy eiendom is.
3. Die Afslaers is nie verantwoordelik of in enige opsig aanspreeklik vir enige foutiewe beskrywing van of gebreke aan die diere/goedere wat te koop aangebied word nie of vir enige nagevolge van enige moontlike foutiewe beskrywings of gebreke of vir enige waarborg van watter aard ookal wat, hetsy uitdruklik of stilswyend, mondelings of skriftelik deur wie ookal gegee is nie.
4. Behoudens die bepalings van paragraaf 11 hieronder, sal die totale risiko en verantwoordelikheid ten opsigte van die diere/goedere uitsluitlik by die Verkoper berus tot op die stadium wat die Koper se merk of brand op die goedere/diere aangebring is, waarna die volle risiko en verantwoordelikheid daarvan op die Koper oorgaan. Die Afslaer sal nie aanspreeklik wees vir enige skade wat op welke wyse ookal daaraan ontstaan nie.
5. Kortings ten opsigte van enige rekening mag in die uitsluitlike diskresie van die bestuur volgens die Afslaer se beleidsvoorskrifte toegestaan word.
6. Betaling van die koopprys van die diere/goedere moet in kontant direk na afloop van die veiling gemaak word. Die Afslaers behou egter die reg voor om in hulle uitsluitlike diskresie kontantbetaling vir die diere/goedere te eis onmiddellik nadat ‘n bod daarvoor op ‘n Koper toegeslaan is. Indien enige bedrag ten opsigte van ‘n transaksie nie op die dag van die veiling betaal word nie, sal dit onderhewig wees aan rente bereken teen ‘n koers soos van tyd tot tyd deur die Afslaer bepaal word en wat deur die Koper as bindend op hom aanvaar word, welke rente bereken sal word vanaf die datum van die veiling tot datum van betaling. Die koper sal daarbenewens aanspreeklik wees vir betaling van alle koste wat mag ontstaan uit sy versuim om stiptelik volgens die bepalings in hierdie ooreenkoms te betaal, insluitende opsporingsfooie, regskoste op ‘n prokureur- en kliëntskaal en insluitende invorderingsfooie soos deur die prokureurs gehef. Die Afslaers het die reg om in hulle uitsluitlike diskresie betaling by wyse van tjeks te aanvaar of te verwerp asook die reg om die aflewering van vee te vertraag totdat die tjek wat ter betaling van die koopprys daarvan aangebied is, deur dieTrekker se bank gehonoreer is.
7. Die Koper sal verantwoordelik en aanspreeklik wees vir die betaling van die koopprys van enige goedere waarvan die bod op hom toegeslaan is, ongeag enige geskil wat met betrekking tot daardie goedere of andersins tussen die Koperen/of die Verkoper en/of die Afslaer bestaan of ontstaan. Die Koper erken en verbind hom daartoe dat die Afslaer geregtig sal wees om sodanige stappe te neem as wat nodig mag wees om betaling van die koopprys vir die goedere ooreenkomstig die bod te verkry en die Koper aanvaar en stem toe dat hy in sodanige geval aanspreeklik is vir rente en/of koste soos in paragraaf 5 van hierdie voorwaardes uiteengesit. Die Koper sal nie geregtig wees om as gevolg van ‘n geskil, aksie of verweer wat hy teen die Verkoper of Afslaer mag hê, die betaling van enige gelde as gevolg van die bod wat op hom toegeslaan is, te weerhou of enige aksie teen die Afslaer daarvoor in te stel nie.
8. Die Veilingsvoorwaardes, terme en voorwaardes op belastingfakture of verkoopsnotas of enige ander voorwaardes waarna daarin verwys word, sowel as voorwaardes van ‘n veiling wat voor die aanvraag of tydens die duur van ‘n veiling afgekondig word, word gesamentlik geag ‘n ooreenkoms met daardie voorwaardes en bepalings tussen die Afslaer en enige ander belanghebbende party te wees, asof dit in een dokument beliggaam is en deur alle betrokke partye onderteken is. Geen wysiging of afwyking ten opsigte daarvan sal op die Afslaer bindend wees of die Afslaer in enige opsig aanspreeklik stel nie, tensy dit op skrif gestel en deur die Afslaer onderteken is. Die Afslaer sal geregtig wees om enige voorwaardes tot die veilingsvoorwaardes by te voeg, daarvan uit te skakel of dit te verander deur middel van kennisgewing voor die aanvang van ‘n veiling of afkondiging tydens die veiling soos die omstandighede dit vereis, sonder enige vooraf kennisgewing.
9. Die Afslaer sal nie geag word van enige reg kragtens of voortspruitend uit die Veilingsvoorwaardes afstand te gedoen het of op enige wyse belet te wees om dit uit te oefen nie, omdat die Afslaer op enige tydstip enige uitstel van tyd vir of toegewing aan ‘n koper of verkoper getoon het met betrekking tot enige betaling of nakoming van die Veilingsvoorwaardes en/of enige ander ooreenkoms wat tussen die Afslaer en sodanige Koper of Verkoper tot stand gekom het nie, of omdat die Afslaer versuim of getalm het in die afdwing van enige eisgrond teen ‘n koper of verkoper.
10. Die persoon wat op die voorkant van hierdie dokument as gevolmagtigde verteenwoordiger van die Koper teken, erken en aanvaar dat hy benewens die genoemde Koper, self ook onvoorwaardelik in sy persoonlike hoedanigheid deur bedoelde verkoopsvoorwaardes en die aanvullende bepalings hierin uiteengesit gebind is, en dat enige verwysings na die Koper in hierdie dokument hom insluit.
11. Tensy die Koper die teendeel bewys, het die verkoping streng teen netto kontant en voetstoots geskied, en het alle risiko by verkoop onmiddellik op hom oorgegaan, maar hy mag die goedere nie sonder die toestemming van die Afslaer verwyder nie (welke toestemming geweier kan word indien die koopsom nie in kontant betaal is nie) en eiendomsreg sal nie op hom oorgaan voordat hy die volle koopsom, plus rente, koste en skadevergoeding, indien van toepassing, betaal het nie.
12. Die nodige bankkoste moet gevoeg word by enige tjek, wissel of promesse wat in diskresie van die Afslaer aanvaar mag word en indien enige tjek, wissel of promesse onteer word, is die volle verskuldigde bedrag plus rente teen die maksimum koers by wet toegelaat, gereken van die datum van die verkoping tot die datum van volle betaling (albei datums ingesluit) sowel as koste, skade en verliese deur die Verkoper, die Afslaer of ‘n Sessionaris aangegaan of gely onmiddellik in kontant betaalbaar, met die verstande dat indien maksimum rente by Wet toegelaat verhoog word, sodanige hoër rente vanaf die datum van sodanige verhoging sal geld.
13. Indien die Verkoper of die Afslaer aan die Koper krediet verleen of tot uitgestelde betaling toestem, moet die Koper:
(a) die bedrag of bedrae plus rente soos ooreengekom, stiptelik betaal op die datum of datums soos ooreengekom, met die verstande dat tensy die Koper die teendeel bewys, die rentekoerse in klousule 7 bedoel sal geld;
(b) indien deur die Verkoper of Afslaer daartoe versoek, binne sewe dae na sodanige versoek, ‘n formule skuldakte aan die Verkoper of Afslaer verstrek soos versoek;
14. Indien die Koper in gebreke is om aan enigeen van die voorwaardes waaronder die goedere aan hom verkoop is te voldoen, is die volle koopsom in weerwil van enige kredietreëling onmiddellik in kontant betaalbaar plus rente, koste, skade en verliese soos in klousule 7 bedoel, en is die Verkoper, Afslaer of ander Sessionaris, soos die geval mag wees, benewens enige ander regte wat hy besit, geregtig:
(a) om sonder vooraf kennisgewing lewering van die goedere aan die Koper te weier;
(b) om op die Koper se uitsluitlike koste ‘n interdik teen hom en/of enigiemand anders te verkry om vervreemding, verpanding of oordrag van goedere te voorkom en om vonnis teen hom of enigiemand anders te verkry vir die
terugbesorging van die goedere;
(c) om goedere wat reeds deur of ten behoewe van die Koper verwyder is summier in herbesit te neem, welke reg aan die Verkoper, die Afslaer of Sessionaris, soos die geval mag wees, die bevoegdheid verleen om die goedere sonder beletsel of verhindering in herbesit te neem, waartoe die Koper uitdruklik instem;
(d) om goedere ten opsigte waarvan lewering geweier is of wat in herbesit geneem is, sonder vooraf kennisgewing aan die Koper en sonder om toestemming van die Koper vooraf te verkry op die uitsluitlike koste en risiko van die Koper per publieke veiling of andersins te herverkoop teen pryse wat as die werklike waarde van die goedere by herverkoop beskou sal word, enige verlies daarop vir die rekening van die Koper te wees. Met die verstande dat die Koper verder aanspreeklik sal wees vir alle koste, insluitende koste in verband met die invordering van die koopsom, skade en verliese wat voortspruit uit voornoemde omstandighede en uit enige optrede deur die Koper wat daarop bereken is om die Verkoper, Afslaer of die Sessionaris, soos die geval mag wees, in die uitoefening van sy regte te hinder of te dwarsboom, vir kommissie op die herverkoop van die goedere indien dit herverkoop word en vir rente gereken teen die koerse in klousule 7 bedoel op die bedrae verteenwoordigende sodanige koste, skade, verliese en kommissie soos voornoem vanaf die datum waarop die verpligting vir die betaling van elke sodanige bedrag ontstaan tot die datum van die volle betaling van elke sodanige bedrag (albei datums ingesluit); Met die verstande verder dat ‘n staat wat deur die Verkoper, die Afslaer of Sessionaris, soos die geval mag wees, verstrek word, prima facie bewys sal wees van die verskuldigde bedrae soos voor noem.
15. Die Koper stem hierby in om, ingeval enige geding op grond van die verkoping teen hom ingestel word, regskoste van die Verkoper, Afslaer of ander sessionaris soos tussen prokureur en kliënt te betaal, insluitende invorderingskommissie.
16. Die Koper stem hierby uitdruklik in kragtens Artikel 45 van die Wet op Landdroshowe (no. 32 van 1944) soos gewysig, dat die Landdroshof wat jurisdiksie oor sy persoon het, jurisdiksie sal hê in enige geding voorspruitende uit die verkoping van die goedere aan hom, ongeag die aard daarvan of die bedrag daarin betrokke.
17. Die Koper doen hierby uitdruklik afstand van enige beskerming of vrywaring wat hy mag hê onder die Wet op Landdroshowe, soos voornoem en die Wet op Landboukrediet (no. 28 van 1966), soos gewysig, waarmee hy vertroud is.
18. Die Koper en, indien van toepassing, sy gevolmagtigde verteenwoordiger wat hierdie ooreenkoms namens hom onderteken, stem hierby in dat die woonadres van die Koper op die voorkant van hierdie dokument verstrek, die domicillium citandi et executandi van die Koper en sodanige verteenwoordiger sal wees.
19. Die inskrywings in die vendusierol van die Afslaers sal prima facie bewys wees van die transaksie soos daarin aangeteken en sal bindend wees op die Verkoper en die Koper. ‘n Sertifikaat uitgereik deur die Afslaer in ooreenstemming met die inskrywings op die vendusierol sal as prima facie bewys dien vir gelde verskuldig deur die Koper aan die Verkoper.
SESSIE VAN REGTE DEUR OF NAMENS DIE EIENAAR: Indien die Afslaer op die voorkant van hierdie dokument genoem, betaling van die koopsom ten opsigte van die goedere daar genoem aan die Verkoper maak, dan sedeer die Verkoper al sy regte, titel en belang in en tot daardie goedere, sowel as sy reg tot herbesit van daardie goedere aan die Afslaer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *